Beter dae vir bouers naby


Advertising

14-03-2012
Read : 103 times
Sake 24

johannesburg. – die toenemende vertroue van residensiële en nie-residensiële boukontrakteurs toon dat suid-afrika se brose bousektor uiteindelik kan uitsien na beter dae. dié goeie nuus kom nadat die vertroue van hoofkontrakteurs in die eerste kwartaal van vanjaar tot 31 indekspunte geklim het, van 19 punte die vorige kwartaal.

dis grootliks te danke aan ’n reuse-sprong van 14 punte tot 38 punte in die vertroue van nie­residensiële boukontrakteurs vergeleke met die vorige kwartaal. die goeie nuus blyk uit die jongste bouvertrouensindeks van first national bank (fnb) en die buro vir ekonomiese ondersoek (beo).

dié indeks weerspieël die vertroue van al die groot rolspelers in die bousektor – argitekte, bourekenaars, kontrakteurs, subkontrakteurs, die vervaardigers van boumate­riaal en die groot- en kleinhandelaars. die vertroue van residensiële boukontrakteurs het ook in die eerste kwartaal kop opgetel en van 22 punte tot 28 punte gestyg. dit het die totale sakevertroue in die boubedryf tot 34 indekspunte laat verbeter, van 29 die vorige kwartaal.

dit is die hoogste vlak van vertroue sedert die vierde kwartaal van 2010 toe die indeks tot 38 punte geklim het.

dr. cees bruggemans, hoofekonoom van fnb, sê uit dié resultate is dit duidelik dat die bousektor inderdaad besig is om te herstel.

hy sê die subkomponente van die bouvertrouensindeks het egter in die eerste kwartaal steeds gemengde resultate getoon. “die vertroue van die vervaardigers van boumateriaal het beduidend toegeneem van 25 punte tot 37 punte; die hoogste vlak sedert die eerste kwartaal van 2008.”

hy sê dit is ten spyte daarvan dat hul produksie en verkope in die kwartaal ’n bietjie afgeneem het. die vertroue van bourekenaars het van 36 punte tot 47 gestyg. daarteenoor het die vertroue van argitekte van 21 tot 17 punte gedaal en dié van kleinhandelaars van 49 punte tot 40 punte. bruggemans sê hy lees nie te veel in die daling nie omdat dit ’n seisoenale aspek is en mettertyd weer sal verbeter.

hy sê bouwerk vir residensiële en nie-residensiële kontrakteurs wys ’n meer konstante toename, maar van ’n lae grondslag af.

hul winsgewendheid het verbeter “en die toename in bouwerk kan die druk op marges verlig, veral omdat baie kontrakteurs prysverhogings uitgestel het om mededingend te bly”, sê hy. hy verwag dat die stygende tendens in die komende kwartale sal voortduur. “dit is soos ’n skip wat stadig uit die hawe begin beweeg.

elma kloppers

Sign up for Free Daily Building and Construction News